Uitgawe 83 2010/03/24 Bondgenoot
|
|
Dis 'n Woensdagaand. 24 Maart 2010. Die dag van die week wat die meeste mense verskonings het waarom hulle nie kan uitgaan nie. Tog wis dié wat so vol verskonings is, nie dat hulle die hoogtepunt van die jaar 2010, vanaand gaan mis nie.
Soos dit die tradisie is, kom die gaste drup drup aan. Met 'n stormloop so twee minute na die geskeduleerde openingstyd. Die teater is stampvol. Daar heers 'n opgewonde verwagting. Maar ook 'n vreemde misterie. Niemand weet wat om te verwag nie. Een gas fluister aan 'n ander dat hy "nie eintlik een vir sulke goed is nie en maar net hier is omdat sy dogter iets met die ding te doen het" Sommige verkyk hulle so aan van die A-lyn gaste wat teenwoordig is, dat hulle nie tyd het om 'n mening te vorm nie. Daar is ook gesprekke van enkelinge wat met brawade en gesag vertel wat nou eintlik vanaand hier gaan gebeur...
Die gaste word rustiger, die ligte doof. Die gebruiklike aankondiging dat selfone asseblief afgeskakel moet word. Met 'n verwelkoming wat deur die jare al so geslyt het, dat gereelde besoekers dit kan saamprewel. Daar is 'n geskuifel op die verhoog. Drie skaduwees beweeg na hulle plekke. 'n Kind snuif. 'n Ma ook... Dan is dit stil.
Roerende tjello en klaviernote kom vanuit nerens te voorskyn. Dan is daar 'n pastellig wat 'n misterieuse man se gesig net genoeg verlig, om die beweging van sy lippe te wys soos wat die lied "Herbergier" hoorbaar word. Sané Lötter en chrisman baard se harmonië kleur die lied in met 'n roerende emosie wat wat 'n gas of twee na 'n snesie laat mik. Daar heers enkele oomblikke van stilte voor die applous. Enkele oomblikke waarin dié lied eers sy laaste indrukke laat insink in gemoedere. Dan die applous. Respekvol gedemp, maar opreg uit die hart.
Onthou jy nog die dae, van wens ons was al groot... En soos die woorde, begeleidingloos, herhindering oopmaak, is elke gas se aandag ten volle op hierdie woord-vertolking gefokus. Word selfs dié wat voor die vertoning hul meerdere kennis oor die stuk tentoon wou stel, stil, en knik 'n kop in eenheid.
Molberge-Springs. As Koos hier kon wees, sou hy inderdaad instem dat Jacques maar hierdie lied van hom mag vertolk. Die begeleiding val soet op die oor. Jacques se stem en emosie is in voeling met - daardie dae. Sané en chrisman se harmonië, weereens treffend.
Eensaamheid. In hartseer, maar ook in blydskap. 'n Vertelling deur Jacques oor die kern van Koos se musiek. Eensaamheid, dit wat ons elkeen tog maar in 'n mindere of 'n meerdere mate ken. 'n Aanhaling wat tref: Al die boeke wat nog ooit oor sielkunde en psigiatrie geskryf is, is in wese maar 'n studie van - eensaamheid. Koos du Plessis het daardie aspek van menswees, wat ons almal so graag ontken, ontleed, musiek daarvan gemaak, en so elke luisteraar gelei tot spontane belydenis van sy eie eensaamheid...
Om weg te vlug. Om soms verantwoordelikheid agter te laat net die lewe 'n kans te gee om werklik lewe te wees. "Nes ek wil" Die titel van een van Koos se min speelse liedjies. Jacques se stem speel saam met die speelse instrumentasie om hierdie lied, 'n ode aan die smagting na vryheid, tot sy volle reg te laat kom. Die laaste note word ingekleur met 'n Cowboy-kreet, soos net chrisman dit kan doen.
Oppad na Nooitgedacht... Daar waar 'n bloedige stryd tussen hebsug en vrees heers. En dan is dit tog maar vrees wat wen. Jacques neem Koos se lied, kleur dit in met dramatisering, en lewer 'n uitvoering daarvan wat die gehoor laat voel of elkeen daar teenwoordig is. Saam begeer, saam gevrees. Met harmonië wat die spookagtigheid van die lied, werklik maak elke toehoorder.
Dit raak al later. Die Middernagtrein trek by die Pierneef-Stasie in. Teatersitplekke word peron-bankies. Deur woordspel, neem Jacques die lied, ontgin ons elkeen se middernag gedagtes. Breek deur daardie skanse wat ons vir onsself probeer bou. Uiteindelik is elkeen wat wou luister, 'n entjie nader aan die erkenning, van sy eie middernag-gedagtes... Die onheilspellende, dog presies in plek, byklanke van chrisman, maak ontkenning egter moeilik.
Ontvlugting na fantasie. Sprokiesgenesing van die dinge, waar realiteit rou wonde los. Sprokie vir 'n stadskind klink nuut. Die begeleiding vars, anders. Jacques ontgin elemente daarvan wat vroeër onder die oppervlak verskuil was. Jacques se interpretasie van Sprokie vir 'n stadskind sou Koos laat knik het in goedkeuring. En die kind in ons elkeen, sal daarmee saamstem. Die lied is treffend ingekleur deur chrisman se kitaarspel.
So beland daar mos 'n bottel op die verhoog. En dit gaan na Jacques se kop toe. Die bottel en Jacques, voer 'n tweegesprek oor die heilsaamheid, aldan nie van hulle vennootskap. chrisman tokkel moedswillige kitaarklanke en dit wil-wil voel of daar twee klein voetjies op my skouer spring... Elkeen van ons het 'n speelplek. Elkeen se speelplek, verskil egter net effens. Hierdie gesprek het gegaan oor ons speelplekke. Dalk net miskien ons wegkruipplekke? Hierdie woord-opsomming van Koos se grootste werke is 'n beknopte biografie van Koos, soos net Jacques dit kon doen. Na die biografie, voel dit meteens of Koos al jare-lange familie, van ons elkeen is.
Die aand word nog later. Ons skimme kom vry. Tog ook nie heeltemal nie. So word elke luisteraar deel van 'n skare skimme op skemer peronne. So begelei Jacques elkeen wat wil luister, op 'n reis na die dag. Die reis word so aanloklik aangebied, dat niemand agtergebly het, toe die trein uiteindelik stop nie.
'n Ode aan sy dogter. Koos het vir sy hele gesin, elkeen 'n lied geskryf. Hierdie lied, opgedra aan Karla, besing die spesiale musikale band tussen hom en sy dogter. Jacques neem hierdie lied en interpreteer dit op so 'n wyse, dat dit soms gevoel het of Koos dalk net teenwoordig kon wees. 'n Speelse, ligvoetige weergawe van hierdie treffer.
Almal het gewonder. Het Jacques dan vergeet van Kinders van die wind? Dit kon tog nie wees nie. Dan prewel Jacques 'n paar woorde. Innemend die gesigte. Wggevoer die emosies in die gehoor, as Jacques die invalswoorde neem. Met 'n woordkwas verf hy hierdie lied in kleure wat die dieptes daarvan ontgin, tot op die mees intense betekenisse.
Antjie Krog het na Koos du Plessis verwys as 'n digter met 'n kitaar. Jare later sou daar na chrisman baard, dieselfde verwysing gemaak word. Jacques gesels oor taalverskille, maar ook oor een universele taal. Dan val chrisman weg met sy lied "Die taal van die liefde" In vele tale word daar bemin. Word harte gewen. Tog, is hierdie taal, die een wat die meeste harte, maar bly ontwyk...
chrisman ontleed daarna deur musiek, mense se siening van God. Skuins voor my in die gehoor was 'n ligte skok toe na God verwys as as, digter-es, minaar-es. In hierdie lied word gedemonstreer hoe God daagliks 'n werklike deel is van elkeen se lewe, op uiteenlopende maniere. Johann Visser het per geleentheid na chrisman verwys as die rock weergawe van die Briels. chrisman is ook al elders, 'n sosiale terroris genoem. Hy is verban op plekke, daar waar mense bang was hy sny te diep in hulle geraamtes. Maar chrisman en sy musiek, is uniek. Jacques sou nie vir chrisman deel van sy produksie gemaak het, as hy nie geweet het dat hierdie man opreg omgee vir musiek, vir mense en vir woorde nie.
Onhou jy nog die dae. Van wens ons was al groot... Jacques neem die woorde van hierdie lied en skep 'n woordskets daarvan wat met trots, teen enige muur kon pryk. En na sy vertolking, verlang elkeen wat eerlik wil wees, tog terug na die sorgelose dae van kleintyd. Jacques reis saam met ons terug op 'n reis deur ons jong dae. Op so 'n manier, dat ons hom daar spontaan kon verwelkom.
Dan lui 'n foon. Ja, dis wel 'n oproep. En dis chrisman wat die oproep beantwoord. "Die Oproep" is 'n lied waar daar deur 'n redelike algemene gesprek, tog ou herhinderinge herroep word. "Daar was 'n keer, of twee, wat ons twee saam gestap het..." Hoeveel keer het jy al gewens, jy kon net weer 'n klein entjie saam met iemand stap. Maar eintlik, is die kans reeds verby.
Die wat eerlik genoeg was om die strekking van die lied te wou verstaan , het dit diep in die hart gebêre. Dankbaar dat daar tog 'n lied is, wat hulle hart verstaan.
As almal ver is. 'n Uitroep van 'n eensame. Eensaam alleen, eensaam tussen baie. Dit is die tyd dat jy jouself leer ken. Vir jouself kan jy nie lieg nie. Dan sit jy eensaam, en weerloos, soos 'n vrou voor 'n spieël. Jacques stroop die mens hier van sy laaste maskers, en noop die wat tot nou toe nog nie wou luister nie, om hulle skanse en maskers weg te gooi. 'n Interpretasie wat getuig van die begrip van die lied, maar meer nog, van die emosie daaragter. Begrip van die mens, se eensaamste oomblikke.
Dan is dit tyd om uit die eensaamheid weg te breek, of minstens voor te gee jy laat dit agter. "Ek weet die dag, lê drie uur ver" en "van staan maar op, net soos die res. Doen elke som, en leer jou les. Maar werk getrou, van ses tot ses, die maatskappy, sorg vir die res" Die verloop van die daaglikse lewe soos net Koos du Plessis, dit kon vasvang. Jacques interpreteer hierdie soutmyn-roetine waarin soveel vasgevang is, op 'n manier wat die slagoffers daarvan, laat beter voel oor hulle lot...
"Jou naam kom nooit na vore, nie in grou geregskantore. Nie in leërs, in verhore" Koos het die eensaamheid hierin gesien. Hy het 'n lied geskryf. Jacques het die lied weer planke toe gebring. Hy slaag suksesvol om te beskryf hoe mense wegraak in gemeenskappe, in kulture. Die gaste in die gehoor wat reeds weggeraak het, het hulself herken. Die wat besig was om weg te raak, het die tekens herken. En die wat steeds dink hulle kan nie wegraak nie, het dit tog, nog steeds ontken...
Met 'n woordskets van "Groet sonder Woorde" herhinder Jacques en Koos ons aan die finaliteit van 'n geliefde wat heen is. En die stryd om te groet, as dit te laat is. Dit herhinder aan 'n liriek "Gee vandag die blomme, gee vandag die ruiker, more is 'n krans te laat" Hierdie vraag kan jy nie ontken nie: Is daar dalk iemand wat jy nog moet groet, voor dit dalk te laat is?
Koos het geweet waar sy krag lê. Hy het openlik sy afhanklikheid aan God bely. Hy het selfs sy hart oopgeskeur enin die lied "Gebed" sy diepste dwaalweë erken. Jacques het van die lied, 'n uitnodiging tot ons eie erkenning gemaak. Sy weergawe is so eerlik gewees, dat van die gaste, net daar in die gehoor, saamgesbid het. Sommige, saam met die lirieke, sommige hulle eie belydenisse. Die groot applous vir hierdie lied, het woordeloos, die impak daarvan bevestig.
Op 'n Woensdagaand in Pretoria. Hoe kan dit dan nou anders. Iewers moet daar hulde gebring word aan Pretoria. Jacques het die komposisie van Koos laat klink asof dit die eerste keer gesing word. Tog, het dit steeds bekend geklink. Die speelsheid, die vreugde, het duidelik uitgestaan in hierdie weergawe.
Thys Streicher het daarna die verhoog bestyg. Dit, nadat chrisman gestruikel het oor Jacques se drankbottel... Jacques en Thys is sielsgenote. Hulle kuier is nie net toneelspel nie, dis eg. Jy kan die ware kameraadskap maklik raaksien. Jacques het toe, op hierdie aand van die 24e Maart 2010, 'n huldeblyk gelewer aan Bles Bridges, wat presies tien jaar gelede, op 24 Maart 2000, oorlede is. Met Leonie en Sunette ook teenwoordig in die gehoor, was dit 'n treffende herhindering. Ek glo, veral hierdie twee dames, sal vir lank nog teenoor Jacques dankbaar wees vir die besondere manier hoe hy hierdie huldeblyk hanteer het.
Jacques en Thys se groet, was Koos se lied/gedig, "Huistoepad" Thys het die eerste deel in woord gebring, met Jacques wat hom opgevolg het.
Daarna is die aand afgesluit met Jacques en Thys in duet met Koos se drinkliedjie "Koue Vuur". Thys se akoestiese kitaarbegeleiding en passie wat beide daarin gesit het, het een ding bevestig. Jacques en Thys sal nog 'n lang pad kan saamloop as musikante, maar ook as bondgenote.
Met Thys wat daarna bely het dat dit al vir tien jaar lank sy droom is om 'n duet saam met Jacques te kon doen, het die verhoogstuk aan 'n einde gekom.
Geen musiek kan regtig goed werk sonder goeie begeleiding nie. Die musikante wat vir die begeleidingsnitte verantwoordelik was, het hulle deeglik van hul taak gekwyt. Aan Willie Botha, Rick Barnard, Finley Biscuit en Christel Steyn alle krediet vir puik ateljeewerk.
Nou wil Sané my met 'n koppie gooi. Want dit lyk of sy vergete is. Hou net gou daardie koppie terug, hier kom jou deel! Sané het deurlopend met haar harmonië, daardie stukkie emosie en passie in die stuk gesit. Sy het daardie verskil gemaak wat mense soms nie dadelik agterkom nie, maar baie sou mis as dit nie daar was nie. Sané het gewys sy verstaan die musiek.
Hou die musiekrakke dop. Sané se solo album word D.V. binnekort opgeneem en sal nie te lank daarna nie, op die rakke wees.
Notas:
- chrisman baard se naam is nie verkeerd gespel in hierdie stuk nie... Besoek gerus www.chrismanbaard.co.za.
- Eendag as ek groot is, gaan ek ook 'n Bondgenoot CD koop...
Lesersbriewe
Wil jy graag jou inset oor Kunstenaars- en ander sake, publiek deel? Nou kan jou brief in hierdie venster plaas. Jou reaksie op anders lesers se insette is ook welkom. Stuur jou brief na redakteur@kunsnuus.co.za.
Weens die vinnige dialoog wat soms in hierdie brieweblad geskied, is dit maklik om tred te verloor met die storielyn in die kleiner skerm hieronder. Nou kan jy die brieweblad oopmaak in 'n volskerm deur hier te klik en op dié manier die gesprek makliker volg.
|
Dit was voorwaar 'n voorreg om hierdie verrykende vertoning te kon ervaar. Ek beveel ten sterkste aan dat elkeen wat die geleentheid kry, kaartjies aanskaf om hierdie ervaring, deel te maak van jou menswees.
Tot ons D.V. spoedig weer deel, bly kreatief en waak teen normaliteit.
|
Die Here sal jou seën en jou behoed. Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; Die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. (Num. 6:26-28)
|
|
|
Besoekrekord:
| Bladteller
|
|
| Werfteller
|
|
|